Wanneer jy jou besigheid begin, is dit soms moeilik om jouself te bemark. Jy weet dalk nie waar om te begin nie, of jy het nie fondse beskikbaar vir bemarking nie.

Daar is vele gratis maniere om jou besigheid bekend te maak. Die mees koste-effektiewe maniere is natuurlik gereelde epos en sosiale media. Daar is ook programme wat jou help om te kyk hoe effektief jou pogings is. Ander maniere is die volgende:

  1. Doen marknavorsing sodat jy seker is wie jou mark is en waar hulle is.
  2. Jy moet oral waar jy gaan jouself bemark. Berei ‘n kort (6-8 sekonde) bemarkingsreëltjie voor wat jy vir mense kan sê wat jou vra wat jy doen. Wat is jou unieke verkoopspunt?
  3. Gebruik jou plaaslike gemeenskap. Raak betrokke by plaaslike geleenthede en spandeer ook tyd waar jou ideale kliënt sal wees.
  4. Netwerk met ander diensteverskaffers wat saam met jou kan werk om jou besigheid te bemark. So kan ‘n fotograaf, videograaf en grimeerkunstenaar saam bemark omdat hulle almal betrokke is by troues of matriekafskeide.
  5. Gebruik jou persoonlike besigheidsnetwerk, raak betrokke by plaaslike netwerkgeleenthede en ook Linkedin.
  6. Wees die kenner! Raak betrokke by plaaslike geleenthede waar jy kan praat oor jou veld en ander touwys maak. Daardeur bemark jy jou besigheid.
  7. Raak betrokke met jou plaaslike gemeenskapskoerant. Gee vir hulle handige informasie of oulike stories om te gebruik. Kry publisiteit, eerder as om vir advertensies te betaal.
  8. Vra vir verwysings. Wanneer jy vir iemand goeie werk gelewer het, vra of hulle iemand na jou toe kan verwys om dieselfde vir hulle te kan doen.
  9. Bou verhoudings met jou kliënte. Jy kan deur epos bemarking met hulle kontak hou of deur sosiale media. Gee goeie informasie en wenke deur.
  10. Gee vir huidige kliënte ‘n afslagkoepon om aan ‘n ander persoon/besigheid te gee sodat hulle van jou dienste gebruik kan maak.
  11. Loods ‘n kompetisie waar jy jou dienste gratis weggee.
  12. Jy kan ook video’s maak wat interesante of leersame informasie gee. As dit goed genoeg is, sal dit gedeel word en jou besigheid bemark waar jy nie kan bykom op jou eie nie.

Daar is sekerlik baie ander idees wat jy kan gebruik om jou besigheid te bemark. Jou beste bemarking is goeie dienslewering. Dit is waar dat mense praat oor goeie diens wat hulle ontvang het. Vandag is die plek waar hulle daaroor praat, op sosiale media. Jy kan daarop reken dat elke persoon ten minste 300 mense op hul sosiale media het wat moontlik bereik kan word deur ‘n goeie resensie van jou besigheid.